
3.3 MIDDELMISBRUIK
ALKOHOL
DRANKMISBRUIK is ’n probleem met talle fasette wat gevaarlike gebruik, skadelike gebruik en afhanklikheid insluit. Gevaarlike gebruik, soos dit deur die Wêreldgesondheidsorganisasie gedefinieer word, is “’n patroon van alkoholinname wat met ’n risiko van skadelike gevolge gepaardgaan”, hetsy fisies, verstandelik of sosiaal. Dit behels onder andere die inname van meer alkohol as wat deur gesondheidsowerhede aanbeveel of deur die wet toegelaatword. Skadelike gebruik behels drinkery wat reeds aanleiding gegee het tot fisiese of verstandelike skade, maar wat nog nie tot afhanklikheid gelei het nie. Afhanklikheid is al beskryf as “die onvermoë om van drank af weg te bly”. Iemand wat van alkohol afhanklik is, smag daarna, hou aan om te drink ondanks verskeie probleme wat deur alkohol veroorsaak word, en ly aan onttrekkingsimptome wanneer hy daarsonder bly.
Ongeag jou ouderdom, geslag of nasionaliteit, jy is nie immuun teen die risiko’s van gevaarlike drinkery nie. Presies wat doen alkohol aan die liggaam? Wat is die gesondheidsgevare van oormatige drinkery? En wat word oor die algemeen beskou as ’n veilige vlak van alkoholinname?
Gevaarlik vir die verstand
Etanol, die chemiese verbinding in die meeste alkoholiese drankies is ’n neurotoksien—dit wil sê ’n stof wat die senuweestelsel kan beskadig of vernietig. Iemand wat dronk is, ly in werklikheid aan ’n vorm van vergiftiging. Groot hoeveelhede etanol veroorsaak koma en die dood. Byvoorbeeld, onder studente in Japan veroorsaakikkinomi, die gebruik om drankies vinnig na mekaar weg te sluk, jaarliks talle sterftes. Die liggaam is in staat om etanol in onskadelike stowwe om te sit, maar dit word nie dadelik gedoen nie. As alkohol vinniger ingeneem word as wat die liggaam dit kan verwerk, hoop etanol in die stelsel op en het dit ’n merkbare effek op die werking van die brein. Hoe?
Spraak, sig, koördinasie, denke en gedrag is alles verbind deur middel van uiters komplekse chemiese reaksies in die brein se neurone, of sleutelselle. Die teenwoordigheid van etanol verander daardie reaksies en onderdruk of vergroot die werking van sekere neurotransmittors—chemikalieë wat seine van neuron na neuron oordra. Die stroom van inligting in die brein word sodoende verander, wat keer dat die brein normaal funksioneer. Dit is waarom iemand wat te veel gedrink het, die algemene tekens van dronkenskap openbaar—onduidelike spraak, dowwe sig, trae bewegings en verminderde selfbeheersing en inhibisies.
Wanneer iemand oor ’n lang tydperk aan alkohol blootgestel word, pas die chemiese werking van sy brein aan om die giftige uitwerking van etanol teë te werk en normale senuweefunksie te handhaaf. Dit lei tot toleransie, wat beteken dat dieselfde hoeveelheid alkohol nie so ’n groot uitwerking het as voorheen nie. Afhanklikheid vind plaas wanneer die brein in so ’n mate aangepas het by die aanwesigheid van alkohol dat dit nie behoorlik daarsonder kan funksioneer nie. Die liggaam smag na alkohol om die chemiese balans te handhaaf. Wanneer iemand hom van alkohol onthou, word die chemiese werking van sy brein heeltemal gedestabiliseer, en onttrekkingsimptome soos angstigheid, bewing en selfs stuiptrekkings ontstaan.
Buiten dat dit wysigings in die chemiese werking van die brein veroorsaak, kan drankmisbruik tot sel-atrofie en -vernietiging lei, wat die breinstruktuur self verander. Hoewel gedeeltelike herstel moontlik is as ’n mens alkohol heeltemal vermy, lyk dit asof van die skade permanent is, wat die geheue en ander kognitiewe funksies verder aantas. Skade aan die brein is nie net die gevolg van langtermynblootstelling aan alkohol nie. Navorsing dui blykbaar daarop dat selfs relatief kort periodes van drankmisbruik skadelik kan wees.
Lewersiekte en kanker
Die lewer speel ’n belangrike rol in die verwerking van voedsel, die bestryding van infeksie, die beheer van bloedvloei en die verwydering van gifstowwe uit die liggaam, insluitende alkohol. Langdurige blootstelling aan alkohol beskadig die lewer in drie stadiums. Gedurende die eerste stadium veroorsaak die afbreek van etanol dat die vertering van vette stadiger plaasvind, wat daartoe lei dat dit in die lewer ophoop. Dit word steatohepatitis, of vetlewer, genoem. Mettertyd ontstaan chroniese lewerontsteking, of hepatitis. Hoewel alkohol self hepatitis kan veroorsaak, kan dit blykbaar ook die liggaam se weerstand teen die hepatitis B- en hepatitis C-virus verlaag.* As dit nie behandel word nie, veroorsaak ontsteking dat die selle bars en doodgaan. Omdat die natuurlike stelsel van geprogrammeerde seldood, wat apoptose genoem word, blykbaar deur alkohol aan die gang gesit word, word die skade vererger.
Die laaste stadium is sirrose. Die bose kringloop van aanhoudende ontsteking en selvernietiging veroorsaak dat permanente letsels vorm. Naderhand is die lewer nie meer sponsagtig nie, maar knopperig. Uiteindelik verhinder littekenweefsel normale bloedvloei, wat tot lewerversaking en die dood lei.
Die uitwerking van alkohol op die lewer het nog ’n verskuilde newe-effek—die lewer kan nie meer sy verdedigende rol om die effek van kankerverwekkende agente teë te werk, so goed vervul nie. Buiten dat dit ’n mens vatbaarder maak vir lewerkanker, verhoog alkohol die risiko van mond-, farinks-, larinks- en slukdermkanker. Wat meer is, alkohol maak dat kankerverwekkende stowwe in tabak makliker deur die slymvliese in die mond dring, wat die risiko vir rokers verhoog. Vroue wat elke dag drink, loop ’n groter risiko om borskanker te ontwikkel. Volgens een studie was die risiko vir dié wat drie of meer alkoholiese drankies per dag drink, 69 persent hoër as dié van nie-drinkers.
Vergiftigde babas
’n Baie tragiese gevolg van drankmisbruik is die uitwerking daarvan op ongebore babas. “Alkohol is baie slegter vir die ontwikkelende fetus as enige ander dwelmmiddel”, berig die International Herald Tribune. Wanneer ’n swanger vrou drink, drink haar ontwikkelende baba ook, en die giftige effek van alkohol op die fetus is veral vernietigend tydens hierdie ontwikkelingstadium. Alkohol veroorsaak permanente skade aan die sentrale senuweestelsel. Neurone vorm nie behoorlik nie. Selle gaan dood. Ander selle ontwikkel op die verkeerde plek.
Die gevolg hiervan, fetale alkohol-sindroom (FAS), is die vernaamste oorsaak van verstandelike vertraging by pasgebore babas. Probleme waarmee FAS-babas te kampe het, sluit in verstandelike vertraging, taalprobleme, vertraagde ontwikkeling, gedragsdisfunksie of -gebreke, stadige groei, hiperaktiwiteit en gehoor- en sigsteurnisse. Baie FAS-babas word ook met kenmerkend misvormde gelaatstrekke gebore.
Daarbenewens kan kinders wie se ma’s selfs matige hoeveelhede alkohol tydens swangerskap gedrink het, aan seker gebreke ly, insluitende gedragsprobleme en leergebreke. “Jy hoef nie ’n alkoholis te wees om jou baba skade aan te doen nie”, sê professor Ann Streissguth, van die fetale alkohol- en dwelmeenheid by die Universiteit van Washington, “jy hoef net genoeg te drink terwyl jy swanger is.” Die Franse Nasionale Instituut vir Navorsing oor Gesondheid en Geneeskunde se verslag, Alcool—Effets sur la santé(Alkohol—uitwerking op gesondheid), sê: “Alkoholverbruik is gedurende die hele swangerskap skadelik, en geen minimumhoeveelheid is al ooit vasgestel wat geen risiko’s inhou nie.” Gevolglik is die verstandigste weg vir vroue wat swanger is of ’n swangerskap beplan, om dalk geen alkohol te drink nie.
Veilige drinkgewoontes
Die lys gesondheidsrisiko’s wat hierbo genoem word, is geensins volledig nie. In 2004 het ’n artikel in die tydskrif Nature gesê dat “selfs klein hoeveelhede alkohol die risiko van beserings verhoog, asook die moontlikheid om ongeveer 60 siektes op te doen”. Wat kan in die lig hiervan as veilige drinkgewoontes beskou word? Vandag geniet miljoene mense regoor die wêreld van tyd tot tyd ’n drankie sonder enige nagevolge. Die sleutel tot goeie gesondheid is matigheid. Maar wat is matigheid presies? Die meeste mense dink dat hulle alkoholinname matig is, en hulle redeneer dalk dat daar geen probleem is solank hulle nie dronk word of afhanklik van alkohol is nie. Nietemin word 1 uit 4 mans in Europa se alkoholinname as gevaarlik beskou.
Verskeie bronne definieer matige drinkery as die inname van 20 gram suiwer alkohol per dag, of twee standaarddrankies vir mans, en 10 gram, of een drankie, vir vroue. Franse en Britse gesondheidsowerhede beveel “verstandige perke” aan van drie drankies per dag vir mans en twee vir vroue. Die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Drankmisbruik en Alkoholisme beveel verder aan dat “mense wat 65 en ouer is, hulle inname van alkohol tot een drankie per dag beperk”.* Alkohol het egter ’n verskillende uitwerking op elkeen van ons. In sommige gevalle is selfs hierdie laer perke moontlik te hoog. Byvoorbeeld, “matige hoeveelhede alkohol kan nadelig wees vir mense wat aan gemoed- en angssteurnisse ly”, sê die 10th Special Report to the U.S. Congress on Alcohol and Health.Ouderdom, mediese geskiedenis en liggaamsbou is ook faktore wat in ag geneem moet word.—Sien die venster “Verminder die risiko”.
Watter hulp is beskikbaar vir diegene wat drank misbruik? Die volgende artikel sal hierdie vraag beantwoord.
Volgens ’n studie wat in Frankryk gedoen is, is die risiko om sirrose te ontwikkel, twee keer hoër by pasiënte wat met die hepatitis C-virus (HCV) besmet is en strawwe drinkers is, as wat dit by HCV-pasiënte is wat matige drinkers is. Daar word aanbeveel dat HCV-lyers baie min of geen alkohol drink nie.
Vroue wat borsvoed, moet ook besef dat alkohol in hulle borsmelk ophoop nadat hulle gedrink het. Trouens, die konsentrasie van alkohol in borsmelk is dikwels hoër as in bloed, aangesien daar meer water in die melk is waardeur die alkohol geabsorbeer kan word as wat daar in bloed is.
Aangesien dit wat as ’n “drankie” beskou word, van plek tot plek verskil, sal die hoeveelheid alkohol in ’n glas die plaaslike standaard weerspieël en moet dit dus in ag geneem word voordat ’n mens drink.
DRINK EN BESTUUR?
Beperkings op die bestuur van ’n motor terwyl ’n mens onder die invloed van alkohol is, bestaan amper so lank soos motors. Denemarke het in 1903 die eerste land geword wat sulke wetgewing ingestel het.
Wanneer jy op ’n leë maag drink, bereik die alkohol in jou bloed sy hoogste vlak binne omtrent ’n halfuur. In teenstelling met wat baie mense dink, sal koffie, vars lug en fisiese oefening jou nie help om nugter te word nie. Al wat die uitwerking van alkohol op jou liggaam sal verminder, is die verloop van tyd. Onthou ook dat die alkoholinhoud van wyn, bier of sterk drank in ’n standaardgrootteglas dieselfde is.*
Selfs klein hoeveelhede alkohol kan jou bestuursvermoë belemmer. Alkohol tas jou sig aan. Padtekens lyk kleiner. Perifere sig sowel as jou vermoë om afstande te skat en op voorwerpe te fokus wat ver van jou af is, is swakker. Die verwerking van inligting, reflekse en koördinasie is stadiger.
As jy ’n ongeluk het nadat jy gedrink het, sal jou beserings waarskynlik ernstiger wees as wat dit sou gewees het indien jy nugter was. Wat meer is, jou kanse om enige noodoperasie te oorleef, verminder weens die uitwerking van alkohol op die hart en bloedsomloop. “In teenstelling met die algemene beskouing is dit meestal dronk bestuurders wat in alkoholverwante ongelukke sterf”, sê ’n verslag deur die Franse Nasionale Instituut vir Navorsing oor Gesondheid en Geneeskunde. Met die oog op die gevare maak die verslag die volgende aanbevelings:
▪ Moenie drink en bestuur nie.
▪ Moenie in ’n motor klim as die bestuurder gedrink het nie.
▪ Moenie toelaat dat vriende of ouers onder die invloed van alkohol bestuur nie.
Oor die algemeen raak ’n mens se liggaam van sewe gram alkohol per uur ontslae. ’n Standaarddrankie verskil van land tot land. Die Wêreldgesondheidsorganisasie definieer ’n standaarddrankie as een wat 10 gram suiwer alkohol bevat. Dit is min of meer gelykstaande aan 250 milliliter bier, 100 milliliter wyn of 30 milliliter sterk drank.
Die volgende drankies bevat ongeveer dieselfde hoeveelheid alkohol
’n Bottel gewone bier (330 ml teen 5% alkohol)
’n Sopie sterk drank (whiskey, jenewer, vodka) (40 ml teen 40% alkohol)
’n Glas wyn (140 ml teen 12% alkohol)
’n Klein glas likeur (70 ml teen 25% alkohol)
ALKOHOLAFHANKLIKHEID—IS DIT IN DIE GENE?
In ’n poging om ’n behandeling vir alkoholisme te vind, het wetenskaplikes die rol van gene in die ontstaan en ontwikkeling daarvan probeer verstaan. Wetenskaplikes het verskeie gene ontdek wat blykbaar ’n invloed het op hoe ’n mens op alkohol reageer. Maar dit is nie net genetiese faktore wat ’n rol speel in alkoholisme nie. Selfs as sommige mense wel ’n sekere genetiese vatbaarheid het, is afhanklikheid nie onvermydelik nie. Omgewingsfaktore is ook betrokke. Swak ouerskap, drankmisbruik by die huis of deur portuurs, konfliksituasies, emosionele probleme, depressie, aggressiwiteit, die soeke na opwinding, hoë weerstand teen die uitwerking van alkohol of verslawing aan ’n ander middel is al genoem as risikofaktore. Hierdie en ander faktore maak die deur oop vir afhanklikheid.
FRANKRYK:
Volgens studies is daar ongeveer vyfmiljoen mense wat drank misbruik, waarvan tussen twee- en driemiljoen van alkohol afhanklik is
NIGERIË:
Die Daily Champion, ’n koerant wat in Lagos uitgegee word, berig dat “meer as 15 miljoen Nigeriërs alkoholiste is”—bykans 12 persent van die bevolking
PORTUGAL:
Hierdie land is een van die wêreld se grootste verbruikers van suiwer alkohol per persoon. Die Lissabonse koerant Público berig dat 10 persent van die bevolking aan “ernstige gebreke [ly] wat met alkohol verband hou”
VERENIGDE STATE:
Volgens die 10th Special Report to the U.S. Congress on Alcohol and Health “voldoen ongeveer 14 miljoen Amerikaners—7,4 persent van die bevolking—aan die diagnostiese maatstawwe vir drankmisbruik of alkoholisme”
VERMINDER DIE RISIKO
Die volgende definisies van laerisiko-perke is gepubliseer deur die Wêreldgesondheidsorganisasie se Departement van Geestesgesondheid en Dwelm- en Alkoholafhanklikheid. Lae risiko beteken nie geen risiko nie. Elkeen se reaksie op alkohol verskil.
▪ Nie meer as twee standaarddrankies per dag nie*
▪ Geen alkohol op twee of meer dae per week
In die volgende omstandighede kan selfs een of twee drankies te veel wees:
▪ Wanneer jy bestuur of met masjinerie werk
▪ Wanneer jy swanger is of borsvoed
▪ Wanneer jy sekere medisyne gebruik
▪ As jy aan sekere mediese toestande ly
▪ As jy nie jou drinkery kan beheer nie
Een standaarddrankie is gelyk aan tien gram alkohol per eenheid of per glas
[Erkenning]
Bron: Brief Intervention for Hazardous and Harmful Drinking
ALKOHOL—GOED VIR DIE HART?
Wetenskaplikes vermoed dat chemiese stowwe in rooiwyn (polifenole) ’n chemiese stof onderdruk wat bloedvate laat vernou.
Alkohol word ook oor die algemeen verbind met hoër vlakke van sogenoemde goeie cholesterol. Dit verminder ook stowwe wat bloedklonte kan veroorsaak.
Enige voordele wat alkohol inhou, kom blykbaar van kleinhoeveelhede wat in die loop van die hele week gedrink word, en nie ’n groot hoeveelheid wat op een aand gedrink word nie. Die inname van meer as twee drankies per dag word verbind met ’n toename in bloeddruk, en strawwe drinkery verhoog die risiko van ’n beroerte en kan swelling van die hart sowel as ’n ongereelde hartklop veroorsaak. Oormatige drinkery veroorsaak dat hierdie en ander gesondheidsrisiko’s enige positiewe uitwerking van alkohol op die kardiovaskulêre stelsel oorskadu. Te veel van ’n goeie ding is juis dit—te veel.
DWELMS
Dwelms—Waarom misbruik mense dit?
“EK WAS 13 jaar oud, en my beste vriend se suster het ons een aand na hulle woonstel toe genooi. Almal het dagga begin rook. Ek het eers nee daarvoor gesê, maar nadat dit ’n paar keer omgestuur is, het ek dit uiteindelik probeer.” Dit is hoe Michael, van Suid-Afrika, sy eerste kennismaking met dwelms beskryf het.
“Ek het uit ’n konserwatiewe gesin gekom wat professioneel by klassieke musiek betrokke was. Ek het in ’n orkes gespeel, en een van die musikante het gereeld gedurende die pouses dagga gerook. Oor ’n tydperk van ’n paar maande het hy dit herhaaldelik vir my aangebied. Ek het dit uiteindelik probeer en dit toe gereeld begin rook.” Dit is hoe Darren, ’n Kanadees, dwelms begin gebruik het.
Albei hierdie persone het uiteindelik ander dwelms gebruik, soos LSD, opium en stimulante. As hulle nou as voormalige dwelmslawe terugkyk, stem hulle saam dat die invloed van portuurs die hoofrede is waarom hulle dwelms begin misbruik het. “Ek het nooit gedink dat ek ooit dwelms sou gebruik nie”, sê Michael, “maar daardie jongmense was die enigste vriende wat ek gehad het, en dis net natuurlik om met hulle saam te gaan.”
Die vermaaklikheidswêreld
Portuurdwang speel beslis ’n groot rol daarin om baie mense aan dwelms verslaaf te kry, en jongmense is veral hiervoor vatbaar. Daarbenewens sien hulle die voorbeeld wat hulle afgode in die vermaaklikheidswêreld stel, wat ’n kragtige invloed op hulle jong bewonderaars uitoefen.
Die vermaaklikheidsbedryf word veral deur dwelmmisbruik geteister. Topkunstenaars in die musiekbedryf raak dikwels in die een of ander stadium van hulle loopbaan by harde dwelms betrokke. Baie rolprentsterre is ook aan dwelms verslaaf.
Vermaaklikheidskunstenaars kan dwelms dikwels so aantreklik laat lyk dat jongmense dit blykbaar onweerstaanbaar vind. Newsweekhet in 1996 gesê: “Die strate van Seattle is vol kinders wat daarheen gegaan het om heroïen te gebruik, net omdat [die rockmusikant] Cobain dit doen.”
Tydskrifte, rolprente en televisie beeld die dwelmwêreld as aanloklik uit. Party vooraanstaande ontwerpers in die modewêreld het eweneens modelle verkies met ’n maer, uitgeteerde voorkoms, soos dwelmslawe.
Waarom raak party verslaaf?
Verskeie ander faktore dra tot die toename in dwelmmisbruik by. Dit sluit in ontnugtering, depressie en ’n gebrek aan ’n doel in die lewe. Bykomende redes is ekonomiese probleme, werkloosheid en die swak voorbeeld van ouers.
Party wat probleme het met menseverhoudinge, gebruik dwelms om hulle tydens sosiale situasies te help. Hulle glo dat dwelms hulle groter selfvertroue gee omdat dit hulle laat skerts en laat voel dat mense van hulle hou. Ander vind dit eenvoudig makliker om dwelms te gebruik as om die verantwoordelikheid te aanvaar om beheer oor hulle lewe te hê.
Verveeldheid is nog ’n rede waarom jongmense hulle tot dwelms wend. Die boek The Romance of Risk—Why Teenagers Do the Things They Do sê oor verveeldheid en die gebrek aan ouerlike toesig: “Seuns en meisies kom ná skool terug na leë huise toe. Hulle is natuurlik eensaam, en hulle wil nie alleen wees nie. Vriende kom kuier vir hulle, maar selfs wanneer hulle saam is, is hulle dikwels verveeld. Hulle kyk na eindelose televisie- en musiekvideo’s of blaai deur die Internet op soek na opwinding. Rokery, dwelmmisbruik en drinkery kan maklik ’n deel van hierdie prentjie word.”
Michael, wat vroeër genoem is, het oor sy gebrek aan ouerlike toesig by die huis gesê: “Ons het ’n gelukkige gesinslewe gehad. Ons gesin was besonder na aan mekaar. Maar albei my ouers het gewerk, en daar was gedurende die dag geen toesig nie. Ons ouers het ons ook al die vryheid in die wêreld gegee. Daar was geen dissipline nie. My ouers het glad nie geweet dat ek dwelms gebruik nie.”
Wanneer hulle eers verslaaf is, hou baie aan om dwelms te gebruik om ’n eenvoudige rede: Hulle geniet dit. Michael, wat elke dag dwelms gebruik het, het oor die uitwerking daarvan gesê: “Ek was in ’n droomwêreld. Ek kon wegkom van enige druk wat ek gehad het. Ek het nooit bedreig gevoel nie. Alles was pragtig.”
Nog ’n voormalige dwelmslaaf van Suid-Afrika, met die naam Dick, het die uitwerking beskryf wat dagga op hom gehad het toe hy dit op 13-jarige ouderdom begin gebruik het: “Ek het vir enige grap gelag. Alles was skreeusnaaks.”
Jongmense word blykbaar nie afgeskrik deur die waarskuwings dat dwelms skadelik is nie. Hulle is geneig om te dink dat “dit nie met my sal gebeur nie”. Die boek Talking With Your Teenager sê waarom tieners gesondheidswaarskuwings ignoreer: “Hulle weerstand is so goed en hulle is so vol lewe dat hulle nie dink dat hulle gesondheid daaronder sal ly nie. Hierdie gevoel van ‘onkwesbaarheid’ is baie algemeen onder adolessente. Tieners sien longkanker, alkoholisme, ernstige dwelmverslawing as iets wat met ouer mense gebeur, nie met hulle nie.” Baie is eenvoudig onbewus van die gevare, soos toegelig word deur die gewildheid van die dwelm ecstasy.
Wat is dit?
Ecstasy en raves
Die dwelm MDMA met ’n amfetamienbasis, wat as ecstasy bekend staan, is gewild by deurnagdanssessies wat raves genoem word. Die verkopers laat mense glo dat die gebruik van ecstasy ’n veilige manier is om ’n euforiese gevoel te kry met die bykomende voordeel van eindelose energie om regdeur die nag te dans. Die dwelm help dansers om ure lank aan te hou totdat hulle uiteindelik in “’n soort beswyming” raak, soos een skrywer daarna verwys het. Een jeugdige het die aantrekkingskrag van ecstasy beskryf: “Die gevoel begin in jou tone, vul jou met ongelooflike warmte en liefde terwyl die tintelende sensasie stadig na jou kop toe beweeg.”
Breinskanderings van gereelde ecstasy-gebruikers het fisiese bewyse gelewer dat dit nie so ’n onskadelike dwelm is as wat verkopers beweer dit is nie. Ecstasy beskadig klaarblyklik senuvesels in die brein en verlaag serotonienvlakke. Sulke skade is moontlik permanent. Uiteindelik kan dit tot probleme soos depressie en geheueverlies lei. Party het al gesterf weens die gebruik vanecstasy. ’n Aantal dwelmhandelaars meng ook ecstasy met heroïen om hulle kliënte daaraan verslaaf te maak.
Hoe maklik verkrygbaar?
In baie lande het dwelms goedkoper geword namate die aanbod toegeneem het. Dit is veral te wyte aan politieke en ekonomiese veranderinge. Suid-Afrika is ’n tipiese voorbeeld, waar politieke veranderinge groter handel en samewerking met ander lande tot gevolg gehad het. Dit, tesame met beperkte grensbeheermaatreëls, het die dwelmhandel bevorder. Met al hoe meer wat werkloos is, is duisende van die dwelmhandel afhanklik vir ’n inkomste. Waar daar volop dwelms is, is daar gewoonlik ook geweld. Volgens ’n koerantberig word kinders in skole in Gauteng—waaronder party wat net 13 jaar oud is—deur die polisie vir dwelmsmokkelary dopgehou. ’n Aantal skole in die gebied het begin om dwelmtoetse op skoliere te doen.
Wat is die grondoorsaak?
Daar is beslis baie redes waarom mense dwelms misbruik. Maar dit is alles simptome van ’n diepliggender probleem, ’n grondoorsaak. Die skrywer Ben Whitaker het hierna verwys: “Die hedendaagse toename in dwelmgebruik is ’n waarskuwingsteken van swakhede en gebreke in ons samelewing, buiten eensaamheid en wanhoop: waarom sal ’n aansienlike aantal talentvolle en bevoorregte mense dwelms bo die werklikheid van die daaglikse lewe verkies?”
Dit is ’n goeie vraag, wat ons laat besef dat ons materialistiese, prestasiebehepte samelewing dikwels nie in ons emosionele en geestelike behoeftes voorsien nie. Selfs die meeste godsdienste kon nie in hierdie behoeftes voorsien nie omdat hulle die grondoorsaak van die mens se probleme geïgnoreer het.
Ons moet uitvind wat daardie grondoorsaak is en dit erken voor ons die enigste permanente oplossing vir die dwelmprobleem kan vind.
STEROIDE
Groot name word aan dié misbruik gekoppel. Voorbeelde is die Tour de France-wenner, Floyd Landis, wat positief getoets het asook die gesamentlike wêreldrekordhouer in die 100 m-naelloop, Justin Gatlin. Só streng is sportorganiseerders oor die gebruik van verbode middels dat die wêreldbekende vrouenaelloper Marion Jones, wat nog elke keer negatief getoets het, as gevolg van bewerings van misbruik van dié middele, nie eers uitgenooi is om deel te neem aan die Goue Liga-kragmeting in Berlyn in September nie, aldus die webwerf Independent Online.
“Dié sportmense het gewoonlik ’n goeie mediese en/of wetenskaplike span agter hulle. Dit beteken dat middels ontwikkel word wat nie deur die toetse opgespoor kan word nie. Teen die tyd dat ’n geskikte toets wel beskikbaar is, het medici weer ’n nuwe middel ontwikkel. Die vlakke van die verbode middels word ook goed gemonitor deur so ’n mediese span sodat dit minimaal is teen die tyd wat die sportpersoon dalk getoets word,” het Terblanche gesê.
Die vernaamste verbode middels onder sportmense is steroïde, stimulante en diuretikums, volgens haar. Die steroïde wat meeste sportmense gebruik, se volledige naam is androgenies-anaboliese steroïde en die meeste van dié middels is verwant aan testosteroon X die manlike geslagshormoon.
“Androgenies verwys na die vermanlikingseienskappe wat gepaardgaan met die gebruik van dié middels. Dit sluit in die groei van hare en verdieping van die stem by vroue, ontwikkeling van borste by mans, ensovoorts en anabolies verwys na die opbouende eienskappe, naamlik die toename in spiermassa,” het Terblanche gesê.
Volgens haar is die drie hooffunksies van steroïde om proteïensintese in die spiere te stimuleer deur dit groter en dus ook sterker te maak, asook om die effek van die streshormoon kortisol om te keer, aangesien kortisolsekresie tydens oefening verhoog en gevolglik spierproteïene afbreek. Derdens stimuleer dit ook die vrystelling van die menslike groeihormoon wat veroorsaak dat beendere en ander weefsel groei, aldus Terblanche.
Sy meen dat steroïde die verskil tussen wen en verloor vir die atleet kan beteken. “Atlete wat nie anaboliese steroïde gebruik nie, kan nie werklik met die ouens wat dit wel gebruik, kompeteer nie,” het Terblanche gesê.
Volgens haar is steroïde uiters gevaarlik, veral die langtermyn gebruik daarvan, aangesien dit “lei tot hipertensie, wat kardiovaskulêre siekte veroorsaak en tot ’n hartaanval of beroerte kan lei”. Dit veroorsaak hoë cholesterol, testikulêre atrofie en ’n lae spermtelling by mans sowel as lewergewasse, en premature sluiting van die bene se groeiplate by kinders wat nog groei. Dit bring ook strukturele veranderinge aan spiere, ligamente en tendons, wat tot beserings kan lei. Volgens Terblanche kan atlete positief toets vir misbruik, selfs al word die steroïde vir mediese doeleindes aangewend.