
3.2 PERSOONLIK GESONDHEID
KINDERMISHANDELING
Kindermishandeling is die fisieke, seksuele, of emosionele mishandeling van kinders deur hul ouers, voogde, of ander mense. Terwyl die meeste kindermishandeling in die kind se eie huis gebeur, is baie gevalle al aangeteken waar kinders mishandel word in sommige organisasie waar kinders betrek word, soos kerke, skole en kindersorgsentrums. Soms vind kindermishandeling op enige lukrake plek plaas, soos ontvoerings en moorde.
Strydig met die algemene opvatting, is kindermishandeling nie 'n nuwe verskynsel weens die hedendaagse stresvollelewenswyse en hoë werkloosheidsyfer nie. Reeds in die antieke tye het kindermishandeling plaasgevind, maar dit is nie as sulks geïdentifiseer nie. Verandering in denkwyses aangaande sekere seksuele gebruike kan gesien word as 'n aanhoudende siklus eerder as 'n lineêre vooruitgang. Sekere gedrag was voorheen gesien as normaal, maar later is dieselfde gedrag gedefinieer as afwykend.
'n Seksuele gebruik kon in die antieke tye gesien word as normaal, maar soos die siening van die samelewing verander het ten opsigte van dié gebruik, só het hul houdings ook verander na een wat die seksuele gebruik definieer as immoreel. Later kan hulle dit selfs definieer as 'n kriminele oortreding en later selfs as sigopatologie. Maar soos tye en sienings verander het, kan die houdings selfs verder verander dat die seksuele misbruik van kinders weer gesien kan word as normaal. Met verloop van tyd het mishandeling van kinders op elke moontlike wyse gemanifesteer, fisies, emosioneel, deur verwaarlosing, seksuele uitbuiting en deur kinderarbeid.
GESINSGEWELD
Dit word algemeen aanvaar dat die gesin die plek is waar ouers en kinders werklik kan groei en ontwikkel tot die mens wat elkeen veronderstel is om te wees. Kinders leer ook in gesinsverband die rolle aan wat hulle weer eendag as ouers moet vervul. ʼn Gesin word normaalweg beskou as ʼn veilige hawe, ongelukkig is die kanse groter dat persone deur gesinslede vermoor en aangerand word as deur enigiemand buite die gesin.
Die gesinslewe word dikwels sodanig geïdealiseer dat gesinsgeweld misgekyk, of selfs as normaal afgemaak word in die daaglikse verloop van kinderopvoeding, die verhouding tussen man en vrou en selfs in die groter familiekring.(Strydom H ;2006; Gesinsgeweld en die implikasies daarvan vir die Suid-Afrikaanse samelewing)
Persone leer om gewelddadig op te tree indien hulle in gewelddadige huishoudings grootgeword het. “.......many batterers were also observers or targets of abuse in their own families of origin. They, too, have been left with emotional scars from long ago”. (Decker DJ;1999: Stopping Violence. A Group Model to Change Men’s Abusive Attitudes and Behaviors).
Transwêreld Radio meld in hulle nuusbrief van April/Mei 2008 dat elke sestig sekondes word ʼn vrou in Suid-Afrika verkrag. Ses jaar gelede het navorsers al gesê dat daar elke sesde dag ʼn vrou deur haar verhoudingsmaat vermoor word en dat een uit elke ses vroue in Suid-Afrika in ʼn gewelddadige verhouding betrokke is. Verder blyk dat 70% van die aanmeldings dui op chroniese mishandeling eerder as ʼn eenmalige insident.
’n Bietjie statistiek:
-
Die meeste insidente vind oor ʼn naweek plaas.
-
Die wapen wat die meeste gebruik word is die vuis, met kneusings, swelsels, snywonde en breuke as die algemeenste vorm van besering.
-
Meer mans as vrouens is skuldig aan gesinsgeweld,
-
vroue is ook soms oortreders en aanstigters van gesinsgeweld.
Wat is Gesinsgeweld?
-
Aanranding (gewone)
-
Aanranding (met die opset om ernstig te beseer)
-
Verbale teistering
-
Seksuele teistering
-
Verkragting
-
Kindermishandeling wat fisiese, geestelike en seksuele mishandeling insluit
-
Ontvoering
-
Enige vorm van geweld soos fisiese, seksuele, emosionele of ekonomiese teistering
-
Beskadiging van eiendom
-
Teister agtervolging
-
Betreding van iemand se eiendom sonder toestemming
-
Enige vorm van beledigende of mishandelingsgedrag
-
Waar sulke gedrag skadelik is of jou gesondheid, veiligheid of welstand bedreig
-
Geforseerde isolasie
-
Finansiële benadeling
-
Diskriminasie
Oorsake van Gesinsgeweld
’n Paar van die oorsake van gesinsgeweld is:
-
Werkloosheid, alkoholmisbruik, kinders uit ʼn vorige huwelik, buite-egtelike kinders en ander faktore soos stieffamilieverwantskappe.
-
Jaloesie, finansies, godsdiens, werkdruk, stres, beskikbaarheid van ondersteuningsisteme sowel as die kwessie van persone leer om gewelddadig op te tree indien hulle in gewelddadige huishoudings grootgeword het.
Almal is baie bekommerd oor die toename in gesinsgeweld en die verskynsel kan nie weg geredeneer word, geïgnoreer, weg gelag of weg gewens word bloot omdat die bewyse skokkend is nie.
Wat staan ons te doen?
Indien jy of iemand wat jy ken mishandeling beleef, kan jy om ʼn beskermingsbevel aansoek doen. Die prosedure word by die webblad http://www.service.gov.za/af-za/protectionorder.htm volledig verskaf of kontak jou naaste Christelik-Maatskaplike Raad (CMR) of die SKDB vir verdere verwysing:
INSTANSIE
KONTAKBESONDERHEDE
SKDB/NGBD
CMR Alberton
011 907 2922
CMR Benoni
011 422 3926
CMR Boksburg
011 917 5147
CMR Brakpan
011 744 4020
CMR Delmas
013 665 2535
CMR Germiston
011 828 6394
CMR Johannesburg
011 942 1023
CMR Kempton Park
011 975 3024
CMR Linden
011 886 6067
CMR Nigel
011 814 3728
CMR Secunda
017 631 1593
CMR Springs
011 363 2222
CMR Standerton
01771 27110
Ons moet weer leer om van die bure en ander persone kennis te neem en by mekaar betrokke te wees.
Die gesinstruktuur moet weer ingestel wees op die Woord van God, naamlik dat die gesin die gemeenskap in die kleine is en dat kinders daar liefde en respek vir volwassenes, mekaar en die lewe moet leer - nie net die kinders nie, maar ook die volwassenes, m.a.w ons moet terug keer na die waardes soos in die Bybel verwoord.
Die Staat het al reeds Gesinshowe in plek gestel, wat gaan jý doen?
-
Jou eie persepsies en houding verander ... ?
-
Meer betrokke raak by die bure, vriende, familie.......?
-
Begelei en ondersteun tydens die bekendmaking en daarna......?
-
Help met opvoeding en opleiding ............?
-
Beradingsdienste of terapie lewer ................?
-
Ondersteuningsgroepe stig ..................?